biografie.
Germandt tree op, in een of ander kapasiteit, al vandat hy kan onthou en het op skool al in toneelstukke en musiekblyspele uitgeblink. In 2006 neem hy deel aan die Wêreld Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste waar hy die gesogte “Grand Champion Award” vir sang, verower. Hy matrikuleer aan Hoërskool Jeugland in Kempton Park waarna hy sy tersiêre studies aan die Waterfront Theatre School in Kaapstad voltooi. Onder die bekwame leiding van Delia Sainsbury, Paul Griffiths en Keith Galloway verwerf hy ‘n Lisensiaat in Musiek-Teater en ‘n Lisensiaat in Drama vanaf die Trinity Guildhall College in Londen. Hy word ook in sy finale jaar met die Richard Loring-prys vir Uitstaande Spel bekroon en word ook ‘n rol aangebied in Richard Loring se CAPE STORIES FROM THE MOTHER CITY in Seepunt, Kaapstad.
Hy keer terug na Johannesburg in 2015 en tree op in THE JUNGLE BOOK, SISTER ACT, SWEENEY TODD, SNEEUWITJIE, JACK & THE BEANSTALK, verskeie televisie advertensies en korporatiewe funksies. Hy maak ook sy televisie-buiging in STERLOPERS op KykNet.
Tans is Germandt te sien in die rol van “Louis Koster”, die sakeman en IT-foendie, in BINNELANDERS op kykNet – waarvoor hy al talle toekennings ontvang het: o.a Huisgenoot Tempo-toekenning vir “Sepie-Akteur Van Die Jaar” in 2017 en die South African Film and Television Award” (SAFTA) vir “Best Actor in a TV Soap”, in 2024.
In 2018, maak hy sy filmdebuut in die volprese rolprent, KANARIE, en verower “Beste Manlike Byspeler: Film” by die kykNet Silwerskermfees. Vir hierdie film word Germandt dan ook benoem vir ‘n SAFTA vir “Best Supporting Actor in a Feature Film” in 2019.
Buiten sy werk voor die kameras, is Germandt ook betrokke by die skryf, regie en vervaardiging van verskeie toneelstukke o.a KEELVOL, DIS KERSFEES! en DIE VROU OP DIE DAK. Sy eerste enkelsnit “In Geval” is ook tans beskikbaar op alle digitale musiek-platforms.
